Waar dryf jou bootjie vandag?
- Janke Page

- 7 days ago
- 3 min read
Ek was hopeloos te lank terug hier.
Hierdie spasie laat my voel asof ek op ’n klein roeiboot die natuur in dryf. Hier is ek vry om sommer net te deel, te voel, te wees.
Die verkenningstog waarop ek einde 2025 geklim het, het my na plekke in myself geneem wat ek lankal vermy het. Plekke van groei, ja – maar ook van eerlike aanvaarding. En iewers tussen dit alles het ek besef: dit gaan nie net oor my nie. Dit gaan oor die Een wat my bootjie regop hou, selfs wanneer ek nie eers besef hoe naby ek aan kantel is nie.
Daar is ’n ongekende kalmte in my hart, soos water op ’n windstil dag. Nie omdat die lewe skielik perfek is nie – maar omdat my Skepper reeds voor my uit loop. Daar is niks wat ek beleef, geen vreugde of bekommernis, wat nie al klaar deur Sy hand gegaan het nie.
En ja, die dae is nie net “highlights” nie. Daar is donker oomblikke. Stiltes. Twyfel. Maar selfs dit voel nou soos net ’n druppel in ’n oneindige oseaan.
Ek het besef dat ek myself vrygespreek het van dinge wat lankal nie meer myne is om te dra nie. Die leuens. Die skuld. Die gewig van dit wat die vyand so maklik oor my skouers wou sit. ’n Vriendin het my daaraan herinner: dit alles is saam met Jesus aan die kruis gelos. Weg. Klaar. Vergewe.
As ons dit kan besef, werklik begryp, kan ons nie anders as om kalmte en vrede met hope vreugde, te ervaar nie!
En vir die eerste keer in ’n lang tyd probeer ek regtig leef soos ’n vrou wat dit glo.
Daar is ’n stil krag in my. Nie ’n harde, bewys-iets-aan-die-wêreld-krag nie – maar ’n sagte, diep wete. Ek weet wie ek is. Ek weet waar my voete hoort. En ek weier om weer plek te maak vir woorde – my eie of ander s’n – wat dit wil stilmaak.
2026 het vir my gekom met ’n ander soort kalmte. Een wat ek nie self geskep het nie. Een wat bly, selfs wanneer die water begin roer.
En dis dalk wat ek vir jou ook wil sê, vrou tot vrou – nie as raad nie, maar net as iets wat ek self leer:Selfs wanneer jou bootjie eendag omslaan, beteken dit nie jy sink nie. Daar is Iemand wat jou kop bo water hou. Altyd.
Miskien is dit hoekom dit so belangrik is dat ons weer na onsself toe terugkeer. Dat ons leer om onsself te aanvaar. Om te vergewe. Om onsself met ’n sagtheid lief te hê wat nie voorwaardes het nie. Dit kan jy net doen wanneer jy Hom eerste liefhet.
Ek het onlangs iets gehoor wat by my bly: dat ons eendag in die Hemel sal staan, nie oor wat ons reggekry het nie, nie oor hoe sterk ons geloof was nie, maar oor wat Jesus reeds vir ons gedoen het.
En dit verander alles.
My bootjie wankel dalk nog.
Ek is nog mens.
Maar daar is nie ’n druppel water wat my tref wat nie deur my Vader se hand gegaan het nie.
Vandag hoop ek net dít vir jou: Dat jy jou Stilkrag sal vind.Dat jy dit sal ontdek daar waar dit nog altyd was – by Sy voete.En dat jy sal begin sien dat jou krag en jou sagtheid, jou stilte en jou jubel, alles deel is van die mooi geheel van wie jy is.
In 2025 het ek skuld en verwyte agtergelaat. Ek het die gewig van my skouers afgestoot en, soms met bewende bene, my voete in 2026 neergesit… presies waar my Vader al lankal vir my gewag het.
En jy?
Waar dryf jou bootjie vandag?
Ek wonder nie of jy sterk genoeg is vir die reis nie. Nee, e
k wonder net of jy die sagte fluistering hoor… en of jy dalk ook gereed is om net te sê: “Ja.”
Want soms is dit al wat dit vat.
’n Ja… en ’n hart vol geloof.





Comments